|
Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
November 2008
Klein, gratis luukshede
'n
Franse professor en skrywer, Philippe Delerm,
het 'n boek getiteld Small pleasures
of life in Frankryk uitgegee. Meer as
'n miljoen kopieë is verkoop. Delerm
redeneer dat die lewe vol klein, dikwels
gratis, luukshede is - jy moet dit net raaksien
en waardeer. Hierdie luukshede lyk soms
onbenullig en hoef ook nie noodwendig aan
jou te behoort om waardeer te kan word nie.
In teenstelling hiermee produseer twee van
die wêreld se grootste tydskrifte
gereeld uitgawes waarin van die mees buitensporige
(en peperduur) luukshede ter wêreld
bekend gemaak word. Hierdie uitspattighede
wissel van goudbestrooide kaviaar tot ultrage-sofistikeerde
private stralers.
In 'n land soos Suid-Afrika, wat gebuk gaan
onder hoë misdaadsyfers, 'n verswakkende
geldeenheid en stygende inflasie, is daar
nog baie van die lewe se onkoopbare luukshede
beskikbaar.
Ek het vir myself die volgende lewensluukshede
geïdentifiseer: goed uitgetrapte, goeie
ou Suid-Afrikaanse koedoeleer-velskoene
- die wêreld se duurste handelsname
kan nie met hulle tred hou nie. 'n Afrika-sonsopkoms
waargeneem vanaf 'n Karoo-koppie.
Die reuk en gevoel van 'n kraaknuwe boek
- of 'n 1948-uitgawe van Sangiro se Op
Safari waarin jou skoonpa nog sy prosa-aantekeninge
gemaak het.
'n Ou koeëldoppie wat uit die Anglo-Boereoorlog
dateer en iewers in die veld opgetel is
- in 'n gebied waar Jan Smuts en sy kommando
nog in die Oos-Kaapse klowe deur die Engelse
gejag is.
Fopgoud-klip wat in die ou Pelgrimsrus-omgewing
opgetel word. 'n Uitsig oor die Karoo-vlaktes
wanneer jy terugkyk vanaf Bruintjieshoogte
en wonder hoe die eerste trekboere dit reggekry
het om die genadelose veld te tem.
Splinternuwe, skoon Suid-Afrikaanse banknote.
'n Skerp Switserse knipmes wat enige Afrika-hindernis
of probleem kan uitoorlê. Boeretroos
wat in 'n swartgebrande ketel op die kole
staan en kook. Die suiwer musiek wat deur
jou kinders op 'n 1925-John Brinsmead &
Sons-klavier, met egte ivoorklawers, gemaak
word terwyl jy wonder deur wie en waar die
Afrika-olifante geskiet is wat hul lewens
só opgeoffer het.
Dan is daar ook 'n ouer generasie Suid-Afrikaanse
mans wat dienspligluukshede sal onthou:
'n koue (nie noodwendig yskoud nie) Windhoek
Lager wat ná 'n harde, stowwerige
dag êrens in die operasionele gebied
gedrink is, afgerond met 'n Bar One.
Die skielike afstel van die gevreesde middag-PT
weens te min tyd of ander opleidingsverpligtinge.
Die onmiskenbare klank van 'n 30x50 sentimeter-metaalplaat-teiken
wat jy op 300 meter met 'n R4-aanvalsgeweer
getref het, of die gevoel van verligting
wanneer jy ná 'n 30 kilometer-roetemars
jou 35 kilogram-Bergen-rugsak van jou skouers
kan laat afgly. Kitskoffie wat gemaak word
in 'n fire bucket met water wat deur
'n Esbit-rat pack-brandstofpil verwarm
is.
Mooiloop het nou ook deel van hier-die
klein lewensluukses geword. Stilweg het
'n eens onbekende tydskrif begin om, deur
sy uitbeelding van Suid-Afrika en sy natuurwonders,
'n luukse te word wat net eers ontdek moes
word.
Louis Botes, George
Duke onttroon as tandkoning
Hoewel
een van die Krugerwildtuin se bekendste
groottande, Duke, nou tandeloos is, bly
hy steeds een van die gewildste olifante
in die 110 jaar van die wildtuin se bestaan.
Op 1 September 2008 het veldwagter Neels
van Wyk by Shishangeni-konsessiehouers gehoor
dat Duke die oggend tydens 'n veldrit met
'n gebreekte tand gesien is.
Neels is inderhaas veld in, waar die inligting
bevestig is. Volgens hom het 'n wildtuinbesoeker
'n week tevore berig dat hy Duke, met sy
tand nog in een stuk, op die S-28, die kringpad
wat strek tussen Onder-Sabie en die Krokodilbrug-ruskamp,
gesien het.
Neels het Duke se spoor gevolg en met 'n
groot gelukskoot op die afgebreekte linkertand
afgekom. Die tand is 1,56 meter lank oor
die buite-kurwe en weeg bykans 32 kilogram
(effe meer as Victoria Beckham).
Met die herwinning van die tand het Neels
en sy span geskiedenis gemaak omdat dit
die eerste keer is dat albei tande van dieselfde
groottand gekry is. So byvoorbeeld is João
(een van die Groot Sewe Groottande) se tande
in 'n geveg met 'n ander bul in 1984 afgebreek,
maar g'n stuk van die ivoor is ooit opgespoor
of positief met die olifant verbind nie.
Die verhaal van Duke se tande begin in Augustus
2007 toe twee Duke-aanhangers van Johannesburg,
Matthew Harding en Dirk Human, die groottand
in die S-28 gewaar het. Die foto's wat hulle
geneem het, is waarskynlik die laastes van
Duke met albei tande nog ongeskonde. Teen
die middag het die twee vriende gesien sy
een tand was af.
Verskeie foto's en GPS-lesings later is
hulle met die inligting kamp toe waarmee
Neels die volgende dag die spoor kon vat.
Uiteindelik moes 'n Bantam-vliegtuig ingespan
word om te help soek. Met 'n draai bo die
Mbyandzwu-spruit het Neels die stuk ivoor
sien lê.
Duke se regtertand is 1,75 meter lank, het
'n omtrek van 49 sentimeter en weeg 37,05
kilogram. Dit beteken die arme Duke het
binne 'n jaar meer as 69 kilogram in 'n
oogwink "verloor". Dit wil voorkom
of die omdolwe van bome die ware ivoor-breker
is.
Volgens Johan Marais en David Hadaway se
boek Great Tuskers of Africa was
Duke (toe hy nog lank in die tand was) die
grootste van die wildtuin se groottande.
Benewens sy stomp tande en gemoedelike geaardheid
kan Duke uitgeken word aan die vierkantige
keep aan die onderkant van sy linkeroor-lob.
Duke het nou sy kroon afgestaan aan Hlanganini,
wat by die Letaba- en Olifantskampe rondbeweeg.
- Die Kruger se Ontluikende Groottand-olifantkompetisie
nooi besoekers wat olifante met uitsonderlike
groot tande sien om hulle af te neem en
die foto's te pos aan die Groottand-olifantkompetisie,
Letaba-olifantsaal, Kruger- Nasionale
Park, Privaatsak X402, Skukuza,1350 of
tuskers@sanparks.org.
Die foto's sal die Kruger se olifantnavorsers
help met identifiseringsprosesse in die
troppe. Die foto's word beoordeel volgens
die wetenskaplike kennis wat daarmee ingewin
word. Verskeie pryse is te wen, waarvan
een verblyf in die Krugerwildtuin is asook
'n toer saam met 'n wetenskaplike.
Kontak: 013 735 6664, www.sanparks.org.
Hoe sag seil die skippie
Vandat
ek kan onthou, hoor ek "As my skip
eendag inkom". En jouwaarlik het 'n
kanaal-aap (Upingtonner) se boot anker gegooi
en die niet ingevaar nog voor hy mondig
is.
Jongeling Gerhard du Toit het in September
2008 op die Bark Europa op 'n reis van 'n
leeftyd vertrek. Die seilskip vaar vanaf
die Kaap na Antarktika via onder meer St.
Helena en Argentinië voor hy in April
terug aan eie wal is. Vir Gerhard is dit
'n brugjaar soos min. "My pa sê
ek moet boeke toe wanneer ek April terug
is in Suid-Afrika," maar in sy oë
en aan sy hande wat reeds soos 'n gesoute
seevaarder s'n lyk, sien jy sy boeke sal
iets met die see te doen hê.
Die Bark Europa (drie maste, 30 seile) is
in 1911 gebou en is in 1994 tot passasierskip
vernuwe. Tog vaar die skip soos van ouds
met sy seile gebol in die wind sodra hy
'n hawe verlaat. Met 'n voltydse professionele
bemanning van 14 (waarvan Gerhard een is)
en 48 passasiers bied die Europa 'n seilervaring
so reg uit die geskiedenisboeke.
As passasier kan jy help seile span, kos
maak, boot stuur, ag sommer doen net waarvoor
jy lus is om die skip te laat voortbeweeg,
maar jy kan ook in die son op 'n stoel op
die houtdek luier. "Jy mag alles doen,
maar jy móét niks doen nie."
Die
bemanning en bevrouing wissel van 18 (ek
weet) tot 60 (ek skat). Sjef en dokter ingesluit.
Aan die stuur van dinge is kaptein Klaas
Gaastra (links), wat meer tyd op die water
as op droë land deurbring; hy was in
Augustus 2007 laas "by die huis",
Nederland, wat ook die Bark Europa se tuiste
is.
Vir Klaas is die reis die geleentheid om
weer die pikkewyne aan die Antarktiese kus
te sien broei, weer saam met die walvisse
te seil, weer in St. Helena aan te doen,
weer weer... maar nooit genoeg nie.
En wat sê kaptein Klaas oor sy nuwe
bemanningslid, Gerhard: "Dieselfde
man gaan nie in April 2009 aan wal stap
nie. Verdomme, dit is het leven."
Om in April saam te seil, kontak Bark Europa,
Posbus 23183, NL-3001 KD, Rotterdam, Nederland,
info@barkeuropa.com,
www.barkeuropa.com.
Die skip se vordering kan ook op die webwerf
gevolg word.
Gholfkarretjie met 'n hemelhoë
verskil
Die Euphoria-gholflandgoed-en-hidro in
die Waterberg, Limpopo-provinsie, spog met
die eerste Annika Sorenstam-gholfbaan in
Afrika en sowaar ook met 'n kabelkar wat
tussen die gholfklub en die berg strek.
Die sweefspoor wat die klubhuis en gholfbaan
met die kruin van die Waterberg verbind,
is reeds in bedryf. Dit is die kleinboet
van die wêreldberoemde Tafelbergsweefspoor
en is deel van die produkreeks wat deur
die Doppelmayr/Garaventa-groep in Oostenryk
en Switserland ontwerp en vervaardig word.
Die twee kajuite kan elk agt mense of vier
mense en hul gholfsakke vervoer - tot 240
mense per uur. Die spoed wissel volgens
behoefte - stadig vir diegene wat wil rondkyk
of teen vyf meter per sekonde vir besoekers
aan die skemerkelkie-restaurant en dek.
Dié landgoed sowat twee en 'n half
uur se ry vanaf Johannesburg bied heelwat
doendinge soos wildkyk, visvang, viertrek-
en staproetes.
Kontak: natalievblerk@euphoriaestate.co.za,
www.euphoriaestate.co.za.
Kinderklere vier verjaarsdag
Cape
Union Mart vier vanjaar sy 75ste bestaansjaar
en stel 'n splinternuwe kinderklerereeks
bekend om dit te vier.
Die K-Way Kids-reeks is as't ware die "mini-me"-weergawe
van die gewilde K-Way-buiteleweklere-reeks
vir volwassenes. Die klere is by uitgesoekte
Cape Union Mart-winkels landwyd te koop.
Kontak: 021 464 5893, joy@capeunionmart.co.za,
www.capeunionmart.co.za.
Kremetarte
Stoney
Steenkamp verwys na die groot kremetart
by Ombalantu (Mooiloop, September
2008). Hierby heg ek 'n foto van daardie
reuse-kremetart aan.
Interessant is die feit dat hierdie boom
en die destydse 52 Bataljon-hoofkwartier
(wat in die Ombalantu-gebied ontplooi het)
nou tot nasionale monument verklaar is en
sodoende vir die nageslag bewaar kan word.
My vrou, Bernice, staan in die "deur"
van die kremetart. Die skerm aan die linkerkant
van die boom word vir troues en onthale
gebruik en regs is 'n kantoortjie met 'n
klein kiosk en snuisterywinkel.
Ek het dié foto in 2006 tydens 'n
toer deur Namibië geneem. Van my foto's
wat tydens hierdie onvergeetlike toer geneem
is, kan besigtig word by
www.pbase.com/williecoetzer.
Willie Coetzer, Irak
- Willie is ook een van Mooiloop se blog-skrywers.
Lees wat hy met ons deel by www.mooiloop.co.za
onder die Blogs-skakel.
Hart klop warm
Dit is nou reeds 'n paar maal dat ek Mooiloop
van die rak afhaal agter jul Asië-artikels
aan en dan afkom op 'n hele paar juwele.
Die September 2008-uitgawe was voorwaar
'n hoogtepunt. Die artikels van Johan Bakkes
verdien veral vermelding, veral die twee
oor China was betowerend.
Dan was daar die besielende artikels van
Chris le Roux en Gerrit Rautenbach. Dit
laat my bejaarde hart warm klop met moed
vir ons land.
Suidoos-Asië was my en my man se gunsteling-reisplek
en die artikel van Sandra Troskie was vir
my wonderlik. Ek sou graag wou hê
dat die skrywer meer vertel van Suid-Afrika
se skakels met daardie streek soos dat Indonesië
ook Hollandse Oos-Indiese Kompanjie-bande
gehad het.
Dié land was geslote vir Suid-Afrikaners
toe ons nog gereis het. Tot ons spyt kon
ons nooit die ou Batavië (vandag Djakarta)
besoek nie.
Dankie dat Mooiloop ons wêrelde
so oopmaak. Ek begin elke maand uitsien
na die volgende maand se verrassings.
Ella Joubert
Mosambiek: 'n wêreld in een land
Reisigers wat Mosambiek toe wil gaan, kan
met die klik van die muis www.mozambiquetravel.com
besoek, 'n nuwe webwerf met omvattende inligting
oor vakansies in daardie land en die Indiese
Oseaan-eilande.
Die webwerf word bestuur deur Journey in
Style, 'n span wat al sedert 1995 unieke
Mosambiek-vakansies saamstel en aanbied.
"Mosambiek se ryk en wisselende landskap
bied soveel geleenthede, ongeag of iemand
se begroting beperk of ruim is," sê
stigterslid Kevin Record.
Dié omvattende webwerf bied in-ligting
oor strandkampe, oorde, hotelle en lodges
teen mededingende pryse vir die Quirimbas-
en Bazaruto-eiland-groepe, Pemba, Niassa,
Vilanculos, Inhambane en Maputo asook pakkette
waar Mosambiek en Afrika-safari's ge-kombineer
word.
In die noordelike streek kan toeriste Ibo-silwer
op Ibo-eiland koop, die wêrelderfenisterrein
op Ilha de Mozambique besoek, wild besigtig
by Lugenda Lodge in Niassa, gemeenskapstoerisme
by Nkwichi en Guludo Lodge ervaar, snorkel
en wêreldklas-cuisine by Londo Lodge
geniet, by Medjumbe-eiland skubaduik, sportvishengel
by Vamizi-eiland beoefen, op 'n afgesonderde
strand op Matemo-eiland ontspan of op 'n
dhow vanaf Quilalea-eiland vaar.
Kontak: 021 702 0285, reservations@mozambiquetravel.com,
www.mozambiquetravel.com.
Grootoog-kyk na Groot Vyf
Die
sagtebandboek Big Five of Africa,
deur Gerald Hinde, is grootoog-kyk vêr
verby namate jy kyk, omblaai, terugblaai
en weer kyk.
Leeu-, olifant-, luiperd-, renoster- en
buffelfoto's versier die 144 bladsye ryklik
- hetsy dit die dier se voorkant, agterkant
of sykant vertoon. Elke foto is bewys van
die bekroonde dierelewefotograaf se liefde
vir hierdie diere en die lang ure wat Gerald
in Suider- en Oos-Afrika deurgebring het
om hulle op film vas te vang.
Uitgewer: Struik Uitgewers, info@struik.co.za,
www.struik.co.za.
Prys: R149,95.
Lekkerlees-stories uit Namakwaland
Wen
1 eksemplaar van Gert Sarrisam se boek,
Vonke uit die koeroeklip. [Kliek
hier]
Vonke uit die koeroeklip deur Gert
Sarrisam is 'n sagteband-kortverhaal-bundel
wat 'n mens in jou rugsak, handsak (as dit
groot genoeg is) of in jou kar moet hou,
want hierdie stories gaan jy oor en oor
lees.
Skrywer Gert (Engelbrecht) sê elk
van die 33 verhale is "ware vertellings
uit sy vulletjiedae en grootwordjare"
op die familieplaas Sarrisam (eers Tsarietsam,
wat Nama is vir "fluistering van die
wind tussen die riete". Saam met Gert
gaan jy koshuis toe en beleef jou eerste
skooldag, woon Nagmaal op Wallekraal by
en ry op die Massey Harris 744-
trekker wat sy pa gekoop het.
Daar is ook agt bladsye met foto's om van
sy stories te illustreer en aan die einde
van sommige van die verhale word die kontreiwoorde
verduidelik: soos perdemoeskant (perdemusikant),
gestrooi het (strooijonker was) en dienkies
(plat haarkrullers van metaal).
"Die Namakwalandse streektaal en uitdrukkings
val soms vreemd op die oor, maar dis die
taal wat ons van ons abbaveldae af ken en
ons is trots daarop," sê Gert.
Soos (wyle) George Weideman dit raakvat:
"Wat hierdie vertelling uniek maak,
is dat dit méér is as net
kontreistories in 'n outentieke Sandveldse
Namakwalands.
"Dit is herinneringskuns met 'n besondere
invalshoek: die dikwels krapperige verhouding
tussen 'n pa en sy seun; die eeue oue stryd
wat die vonke tussen die ou ram en die jong
ram laat spat. Maar deernis ontbreek nooit
in dié stryd tussen korrelkop en
korrelkop in 'n ongenaakbare, afgesonderde
landstreek nie."
Vonke uit die koeroeklip is 'n self-uitgawe
en Gert se debuutbundel.
Bestellings: Gert Engelbrecht, 027
581 1021, sarrisam@telkomsa.net,
Posbus 79, Garies 8220.
Prys: R145, plus posgeld.
Bakgat braaiboek
Hoe
kan 'n resepteboek genaamd Braai
jou dan nie dadelik laat weet wat daarbinne
verskyn, verstaanbaar en eenvoudig sal wees
nie? En dat die resepte en wenke selfs 'n
stadsjapie-doedie na 'n geswore braaier
sal laat lyk nie?
Braai bevat 166 vingerlek-resepte en na
dese sal almal weet hoe lank wat oor die
kole moet bly en of dit onregstreekse hitte
moet wees.
Die skrywers het vir elke moontlike kos-gril
en -geit voorsiening gemaak: vleisgeregte,
vis, hoender, groente en seekos. Gesondheidsbewustes
kry slaaie en diegene wat van brode hou,
kan ook hul borde nader skuif. Vir ou Soettand
is daar verloklikhede soos Bar One-kaaskoek
en romerige aarbei-nagereg. Marinades en
vryfmengsel smeek om op die proef gestel
te word: roosmaryn-en-brandrissiemarinade
vir hoender, lams- of varkvleis of dalk
die varskruie-vryfmengsel vir steak.
Braai is gelaai met spoggerige aan-sit-ete-
of om-die-vuur-kuier-resepte.
Uitgewer: Struik Uitgewers, info@struik.co.za,
www.struik.co.za.
Prys: R149,95.
Bekyk Namibië van nader
Wen
1 eksemplaar van Andreas Vogt se fotoboek,
A closer look at Namibia. [Kliek
hier]
Fotograaf Andreas Vogt, wat die foto's by
die Skrywersdorpreeks-artikel in vandeesmaand
se Mooiloop (bladsy 50) geneem het, het
onlangs die sagteband-fotoboek A closer
look at Namibia die lig laat sien.
Dit bevat hordes pragfoto's, versprei oor
133 bladsye, wat hy op sy toere deur die
land geneem het en wat met interessante
uitleg aangebied en deur spannende stories
toegelig word. Andreas noem dit "a
pictorial companion to a special country".
Namibië is inderdaad 'n spesiale land,
en die boek het nogal 'n soort tydskrifbenadering
om dié land bekend te stel. Andreas
se passie is kultuurgeskiedenis en hy het
jare ondervinding in dié veld, 'n
meestersgraad van die Universiteit Stellenbosch
en 'n doktorsgraad van die Otto Friedrich-universiteit
te Bamberg, Duitsland.
Die boek is 'n selfuitgawe.
Bestellings: Andreas Vogt,
ifoxta@iway.na, Posbus 24241, Windhoek,
Namibië.
Prys: R300. |