Ramsay, Son & Parker (Pty) Ltd

Foto: Nelis Engelbrecht

 

 
 TUISBLAD
 NUUTSTE UITGAWE
 VAN DIE REDAKTEUR
 BOSSTORIES
 GROEN WENKE
 RADIO LANGPAD
 CHRIS BARNARD
 DOENDINGE
 BLOGS
 KOMPETISIES
 JULLE FOTO'S
 KONTAK
 SKAKELS
 SKERMBEELDE
 
 


 

Bosstories
Briewe, reisverslae, nuusflitse en saakmaakstories
November 2008

Klein, gratis luukshede

'n Franse professor en skrywer, Philippe Delerm, het 'n boek getiteld Small pleasures of life in Frankryk uitgegee. Meer as 'n miljoen kopieë is verkoop. Delerm redeneer dat die lewe vol klein, dikwels gratis, luukshede is - jy moet dit net raaksien en waardeer. Hierdie luukshede lyk soms onbenullig en hoef ook nie noodwendig aan jou te behoort om waardeer te kan word nie.

In teenstelling hiermee produseer twee van die wêreld se grootste tydskrifte gereeld uitgawes waarin van die mees buitensporige (en peperduur) luukshede ter wêreld bekend gemaak word. Hierdie uitspattighede wissel van goudbestrooide kaviaar tot ultrage-sofistikeerde private stralers.

In 'n land soos Suid-Afrika, wat gebuk gaan onder hoë misdaadsyfers, 'n verswakkende geldeenheid en stygende inflasie, is daar nog baie van die lewe se onkoopbare luukshede beskikbaar.

Ek het vir myself die volgende lewensluukshede geïdentifiseer: goed uitgetrapte, goeie ou Suid-Afrikaanse koedoeleer-velskoene - die wêreld se duurste handelsname kan nie met hulle tred hou nie. 'n Afrika-sonsopkoms waargeneem vanaf 'n Karoo-koppie.

Die reuk en gevoel van 'n kraaknuwe boek - of 'n 1948-uitgawe van Sangiro se Op Safari waarin jou skoonpa nog sy prosa-aantekeninge gemaak het.

'n Ou koeëldoppie wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer en iewers in die veld opgetel is - in 'n gebied waar Jan Smuts en sy kommando nog in die Oos-Kaapse klowe deur die Engelse gejag is.

Fopgoud-klip wat in die ou Pelgrimsrus-omgewing opgetel word. 'n Uitsig oor die Karoo-vlaktes wanneer jy terugkyk vanaf Bruintjieshoogte en wonder hoe die eerste trekboere dit reggekry het om die genadelose veld te tem.

Splinternuwe, skoon Suid-Afrikaanse banknote. 'n Skerp Switserse knipmes wat enige Afrika-hindernis of probleem kan uitoorlê. Boeretroos wat in 'n swartgebrande ketel op die kole staan en kook. Die suiwer musiek wat deur jou kinders op 'n 1925-John Brinsmead & Sons-klavier, met egte ivoorklawers, gemaak word terwyl jy wonder deur wie en waar die Afrika-olifante geskiet is wat hul lewens só opgeoffer het.

Dan is daar ook 'n ouer generasie Suid-Afrikaanse mans wat dienspligluukshede sal onthou: 'n koue (nie noodwendig yskoud nie) Windhoek Lager wat ná 'n harde, stowwerige dag êrens in die operasionele gebied gedrink is, afgerond met 'n Bar One.

Die skielike afstel van die gevreesde middag-PT weens te min tyd of ander opleidingsverpligtinge.

Die onmiskenbare klank van 'n 30x50 sentimeter-metaalplaat-teiken wat jy op 300 meter met 'n R4-aanvalsgeweer getref het, of die gevoel van verligting wanneer jy ná 'n 30 kilometer-roetemars jou 35 kilogram-Bergen-rugsak van jou skouers kan laat afgly. Kitskoffie wat gemaak word in 'n fire bucket met water wat deur 'n Esbit-rat pack-brandstofpil verwarm is.

Mooiloop het nou ook deel van hier-die klein lewensluukses geword. Stilweg het 'n eens onbekende tydskrif begin om, deur sy uitbeelding van Suid-Afrika en sy natuurwonders, 'n luukse te word wat net eers ontdek moes word.

Louis Botes, George

Duke onttroon as tandkoning

Hoewel een van die Krugerwildtuin se bekendste groottande, Duke, nou tandeloos is, bly hy steeds een van die gewildste olifante in die 110 jaar van die wildtuin se bestaan.

Op 1 September 2008 het veldwagter Neels van Wyk by Shishangeni-konsessiehouers gehoor dat Duke die oggend tydens 'n veldrit met 'n gebreekte tand gesien is.

Neels is inderhaas veld in, waar die inligting bevestig is. Volgens hom het 'n wildtuinbesoeker 'n week tevore berig dat hy Duke, met sy tand nog in een stuk, op die S-28, die kringpad wat strek tussen Onder-Sabie en die Krokodilbrug-ruskamp, gesien het.

Neels het Duke se spoor gevolg en met 'n groot gelukskoot op die afgebreekte linkertand afgekom. Die tand is 1,56 meter lank oor die buite-kurwe en weeg bykans 32 kilogram (effe meer as Victoria Beckham).

Met die herwinning van die tand het Neels en sy span geskiedenis gemaak omdat dit die eerste keer is dat albei tande van dieselfde groottand gekry is. So byvoorbeeld is João (een van die Groot Sewe Groottande) se tande in 'n geveg met 'n ander bul in 1984 afgebreek, maar g'n stuk van die ivoor is ooit opgespoor of positief met die olifant verbind nie.

Die verhaal van Duke se tande begin in Augustus 2007 toe twee Duke-aanhangers van Johannesburg, Matthew Harding en Dirk Human, die groottand in die S-28 gewaar het. Die foto's wat hulle geneem het, is waarskynlik die laastes van Duke met albei tande nog ongeskonde. Teen die middag het die twee vriende gesien sy een tand was af.

Verskeie foto's en GPS-lesings later is hulle met die inligting kamp toe waarmee Neels die volgende dag die spoor kon vat. Uiteindelik moes 'n Bantam-vliegtuig ingespan word om te help soek. Met 'n draai bo die Mbyandzwu-spruit het Neels die stuk ivoor sien lê.
Duke se regtertand is 1,75 meter lank, het 'n omtrek van 49 sentimeter en weeg 37,05 kilogram. Dit beteken die arme Duke het binne 'n jaar meer as 69 kilogram in 'n oogwink "verloor". Dit wil voorkom of die omdolwe van bome die ware ivoor-breker is.

Volgens Johan Marais en David Hadaway se boek Great Tuskers of Africa was Duke (toe hy nog lank in die tand was) die grootste van die wildtuin se groottande. Benewens sy stomp tande en gemoedelike geaardheid kan Duke uitgeken word aan die vierkantige keep aan die onderkant van sy linkeroor-lob.

Duke het nou sy kroon afgestaan aan Hlanganini, wat by die Letaba- en Olifantskampe rondbeweeg.

  • Die Kruger se Ontluikende Groottand-olifantkompetisie nooi besoekers wat olifante met uitsonderlike groot tande sien om hulle af te neem en die foto's te pos aan die Groottand-olifantkompetisie, Letaba-olifantsaal, Kruger- Nasionale Park, Privaatsak X402, Skukuza,1350 of tuskers@sanparks.org. Die foto's sal die Kruger se olifantnavorsers help met identifiseringsprosesse in die troppe. Die foto's word beoordeel volgens die wetenskaplike kennis wat daarmee ingewin word. Verskeie pryse is te wen, waarvan een verblyf in die Krugerwildtuin is asook 'n toer saam met 'n wetenskaplike.

Kontak: 013 735 6664, www.sanparks.org.

Hoe sag seil die skippie

Vandat ek kan onthou, hoor ek "As my skip eendag inkom". En jouwaarlik het 'n kanaal-aap (Upingtonner) se boot anker gegooi en die niet ingevaar nog voor hy mondig is.

Jongeling Gerhard du Toit het in September 2008 op die Bark Europa op 'n reis van 'n leeftyd vertrek. Die seilskip vaar vanaf die Kaap na Antarktika via onder meer St. Helena en Argentinië voor hy in April terug aan eie wal is. Vir Gerhard is dit 'n brugjaar soos min. "My pa sê ek moet boeke toe wanneer ek April terug is in Suid-Afrika," maar in sy oë en aan sy hande wat reeds soos 'n gesoute seevaarder s'n lyk, sien jy sy boeke sal iets met die see te doen hê.

Die Bark Europa (drie maste, 30 seile) is in 1911 gebou en is in 1994 tot passasierskip vernuwe. Tog vaar die skip soos van ouds met sy seile gebol in die wind sodra hy 'n hawe verlaat. Met 'n voltydse professionele bemanning van 14 (waarvan Gerhard een is) en 48 passasiers bied die Europa 'n seilervaring so reg uit die geskiedenisboeke.

As passasier kan jy help seile span, kos maak, boot stuur, ag sommer doen net waarvoor jy lus is om die skip te laat voortbeweeg, maar jy kan ook in die son op 'n stoel op die houtdek luier. "Jy mag alles doen, maar jy móét niks doen nie."

Die bemanning en bevrouing wissel van 18 (ek weet) tot 60 (ek skat). Sjef en dokter ingesluit. Aan die stuur van dinge is kaptein Klaas Gaastra (links), wat meer tyd op die water as op droë land deurbring; hy was in Augustus 2007 laas "by die huis", Nederland, wat ook die Bark Europa se tuiste is.

Vir Klaas is die reis die geleentheid om weer die pikkewyne aan die Antarktiese kus te sien broei, weer saam met die walvisse te seil, weer in St. Helena aan te doen, weer weer... maar nooit genoeg nie.

En wat sê kaptein Klaas oor sy nuwe bemanningslid, Gerhard: "Dieselfde man gaan nie in April 2009 aan wal stap nie. Verdomme, dit is het leven."

Om in April saam te seil, kontak Bark Europa, Posbus 23183, NL-3001 KD, Rotterdam, Nederland, info@barkeuropa.com, www.barkeuropa.com. Die skip se vordering kan ook op die webwerf gevolg word.

Gholfkarretjie met 'n hemelhoë verskil

Die Euphoria-gholflandgoed-en-hidro in die Waterberg, Limpopo-provinsie, spog met die eerste Annika Sorenstam-gholfbaan in Afrika en sowaar ook met 'n kabelkar wat tussen die gholfklub en die berg strek.

Die sweefspoor wat die klubhuis en gholfbaan met die kruin van die Waterberg verbind, is reeds in bedryf. Dit is die kleinboet van die wêreldberoemde Tafelbergsweefspoor en is deel van die produkreeks wat deur die Doppelmayr/Garaventa-groep in Oostenryk en Switserland ontwerp en vervaardig word.

Die twee kajuite kan elk agt mense of vier mense en hul gholfsakke vervoer - tot 240 mense per uur. Die spoed wissel volgens behoefte - stadig vir diegene wat wil rondkyk of teen vyf meter per sekonde vir besoekers aan die skemerkelkie-restaurant en dek.

Dié landgoed sowat twee en 'n half uur se ry vanaf Johannesburg bied heelwat doendinge soos wildkyk, visvang, viertrek- en staproetes.

Kontak: natalievblerk@euphoriaestate.co.za, www.euphoriaestate.co.za.

Kinderklere vier verjaarsdag

Cape Union Mart vier vanjaar sy 75ste bestaansjaar en stel 'n splinternuwe kinderklerereeks bekend om dit te vier.

Die K-Way Kids-reeks is as't ware die "mini-me"-weergawe van die gewilde K-Way-buiteleweklere-reeks vir volwassenes. Die klere is by uitgesoekte Cape Union Mart-winkels landwyd te koop.

Kontak: 021 464 5893, joy@capeunionmart.co.za, www.capeunionmart.co.za.

Kremetarte

Stoney Steenkamp verwys na die groot kremetart by Ombalantu (Mooiloop, September 2008). Hierby heg ek 'n foto van daardie reuse-kremetart aan.

Interessant is die feit dat hierdie boom en die destydse 52 Bataljon-hoofkwartier (wat in die Ombalantu-gebied ontplooi het) nou tot nasionale monument verklaar is en sodoende vir die nageslag bewaar kan word.

My vrou, Bernice, staan in die "deur" van die kremetart. Die skerm aan die linkerkant van die boom word vir troues en onthale gebruik en regs is 'n kantoortjie met 'n klein kiosk en snuisterywinkel.

Ek het dié foto in 2006 tydens 'n toer deur Namibië geneem. Van my foto's wat tydens hierdie onvergeetlike toer geneem is, kan besigtig word by www.pbase.com/williecoetzer.

Willie Coetzer, Irak

  • Willie is ook een van Mooiloop se blog-skrywers. Lees wat hy met ons deel by www.mooiloop.co.za onder die Blogs-skakel.

Hart klop warm

Dit is nou reeds 'n paar maal dat ek Mooiloop van die rak afhaal agter jul Asië-artikels aan en dan afkom op 'n hele paar juwele. Die September 2008-uitgawe was voorwaar 'n hoogtepunt. Die artikels van Johan Bakkes verdien veral vermelding, veral die twee oor China was betowerend.

Dan was daar die besielende artikels van Chris le Roux en Gerrit Rautenbach. Dit laat my bejaarde hart warm klop met moed vir ons land.

Suidoos-Asië was my en my man se gunsteling-reisplek en die artikel van Sandra Troskie was vir my wonderlik. Ek sou graag wou hê dat die skrywer meer vertel van Suid-Afrika se skakels met daardie streek soos dat Indonesië ook Hollandse Oos-Indiese Kompanjie-bande gehad het.

Dié land was geslote vir Suid-Afrikaners toe ons nog gereis het. Tot ons spyt kon ons nooit die ou Batavië (vandag Djakarta) besoek nie.

Dankie dat Mooiloop ons wêrelde so oopmaak. Ek begin elke maand uitsien na die volgende maand se verrassings.

Ella Joubert

Mosambiek: 'n wêreld in een land

Reisigers wat Mosambiek toe wil gaan, kan met die klik van die muis www.mozambiquetravel.com besoek, 'n nuwe webwerf met omvattende inligting oor vakansies in daardie land en die Indiese Oseaan-eilande.

Die webwerf word bestuur deur Journey in Style, 'n span wat al sedert 1995 unieke Mosambiek-vakansies saamstel en aanbied. "Mosambiek se ryk en wisselende landskap bied soveel geleenthede, ongeag of iemand se begroting beperk of ruim is," sê stigterslid Kevin Record.

Dié omvattende webwerf bied in-ligting oor strandkampe, oorde, hotelle en lodges teen mededingende pryse vir die Quirimbas- en Bazaruto-eiland-groepe, Pemba, Niassa, Vilanculos, Inhambane en Maputo asook pakkette waar Mosambiek en Afrika-safari's ge-kombineer word.

In die noordelike streek kan toeriste Ibo-silwer op Ibo-eiland koop, die wêrelderfenisterrein op Ilha de Mozambique besoek, wild besigtig by Lugenda Lodge in Niassa, gemeenskapstoerisme by Nkwichi en Guludo Lodge ervaar, snorkel en wêreldklas-cuisine by Londo Lodge geniet, by Medjumbe-eiland skubaduik, sportvishengel by Vamizi-eiland beoefen, op 'n afgesonderde strand op Matemo-eiland ontspan of op 'n dhow vanaf Quilalea-eiland vaar.

Kontak: 021 702 0285, reservations@mozambiquetravel.com, www.mozambiquetravel.com.

Grootoog-kyk na Groot Vyf

Die sagtebandboek Big Five of Africa, deur Gerald Hinde, is grootoog-kyk vêr verby namate jy kyk, omblaai, terugblaai en weer kyk.

Leeu-, olifant-, luiperd-, renoster- en buffelfoto's versier die 144 bladsye ryklik - hetsy dit die dier se voorkant, agterkant of sykant vertoon. Elke foto is bewys van die bekroonde dierelewefotograaf se liefde vir hierdie diere en die lang ure wat Gerald in Suider- en Oos-Afrika deurgebring het om hulle op film vas te vang.

Uitgewer: Struik Uitgewers, info@struik.co.za, www.struik.co.za.
Prys: R149,95.

Lekkerlees-stories uit Namakwaland

Wen 1 eksemplaar van Gert Sarrisam se boek, Vonke uit die koeroeklip. [Kliek hier]

Vonke uit die koeroeklip deur Gert Sarrisam is 'n sagteband-kortverhaal-bundel wat 'n mens in jou rugsak, handsak (as dit groot genoeg is) of in jou kar moet hou, want hierdie stories gaan jy oor en oor lees.

Skrywer Gert (Engelbrecht) sê elk van die 33 verhale is "ware vertellings uit sy vulletjiedae en grootwordjare" op die familieplaas Sarrisam (eers Tsarietsam, wat Nama is vir "fluistering van die wind tussen die riete". Saam met Gert gaan jy koshuis toe en beleef jou eerste skooldag, woon Nagmaal op Wallekraal by en ry op die Massey Harris 744-
trekker wat sy pa gekoop het.

Daar is ook agt bladsye met foto's om van sy stories te illustreer en aan die einde van sommige van die verhale word die kontreiwoorde verduidelik: soos perdemoeskant (perdemusikant), gestrooi het (strooijonker was) en dienkies (plat haarkrullers van metaal).

"Die Namakwalandse streektaal en uitdrukkings val soms vreemd op die oor, maar dis die taal wat ons van ons abbaveldae af ken en ons is trots daarop," sê Gert.

Soos (wyle) George Weideman dit raakvat: "Wat hierdie vertelling uniek maak, is dat dit méér is as net kontreistories in 'n outentieke Sandveldse Namakwalands.

"Dit is herinneringskuns met 'n besondere invalshoek: die dikwels krapperige verhouding tussen 'n pa en sy seun; die eeue oue stryd wat die vonke tussen die ou ram en die jong ram laat spat. Maar deernis ontbreek nooit in dié stryd tussen korrelkop en korrelkop in 'n ongenaakbare, afgesonderde landstreek nie."

Vonke uit die koeroeklip is 'n self-uitgawe en Gert se debuutbundel.

Bestellings: Gert Engelbrecht, 027 581 1021, sarrisam@telkomsa.net, Posbus 79, Garies 8220.
Prys: R145, plus posgeld.

Bakgat braaiboek

Hoe kan 'n resepteboek genaamd Braai jou dan nie dadelik laat weet wat daarbinne verskyn, verstaanbaar en eenvoudig sal wees nie? En dat die resepte en wenke selfs 'n stadsjapie-doedie na 'n geswore braaier sal laat lyk nie?

Braai bevat 166 vingerlek-resepte en na dese sal almal weet hoe lank wat oor die kole moet bly en of dit onregstreekse hitte moet wees.

Die skrywers het vir elke moontlike kos-gril en -geit voorsiening gemaak: vleisgeregte, vis, hoender, groente en seekos. Gesondheidsbewustes kry slaaie en diegene wat van brode hou, kan ook hul borde nader skuif. Vir ou Soettand is daar verloklikhede soos Bar One-kaaskoek en romerige aarbei-nagereg. Marinades en vryfmengsel smeek om op die proef gestel te word: roosmaryn-en-brandrissiemarinade vir hoender, lams- of varkvleis of dalk die varskruie-vryfmengsel vir steak.

Braai is gelaai met spoggerige aan-sit-ete- of om-die-vuur-kuier-resepte.

Uitgewer: Struik Uitgewers, info@struik.co.za, www.struik.co.za.
Prys: R149,95.

Bekyk Namibië van nader

Wen 1 eksemplaar van Andreas Vogt se fotoboek, A closer look at Namibia. [Kliek hier]

Fotograaf Andreas Vogt, wat die foto's by die Skrywersdorpreeks-artikel in vandeesmaand se Mooiloop (bladsy 50) geneem het, het onlangs die sagteband-fotoboek A closer look at Namibia die lig laat sien.

Dit bevat hordes pragfoto's, versprei oor 133 bladsye, wat hy op sy toere deur die land geneem het en wat met interessante uitleg aangebied en deur spannende stories toegelig word. Andreas noem dit "a pictorial companion to a special country".

Namibië is inderdaad 'n spesiale land, en die boek het nogal 'n soort tydskrifbenadering om dié land bekend te stel. Andreas se passie is kultuurgeskiedenis en hy het jare ondervinding in dié veld, 'n meestersgraad van die Universiteit Stellenbosch en 'n doktorsgraad van die Otto Friedrich-universiteit te Bamberg, Duitsland.

Die boek is 'n selfuitgawe.

Bestellings: Andreas Vogt, ifoxta@iway.na, Posbus 24241, Windhoek, Namibië.
Prys: R300.


-------------------------------------

Oktober 2008
September 2008

Augustus 2008
Julie 2008

Junie 2008

Mei 2008

April 2008
Maart 2008
Februarie 2008
Januarie 2008
Oktober 2007
September 2007
Augustus 2007

 

 

footer