|
November 2008
Die
wynvlieg-safari
Ek en Dirk en Ampie sit die aand
op die stoep 'n paar knertse en
drink. Omdat ek weet die twee is groot rooiwyn-entoesiaste,
het ek gesorg vir 'n ruim voorraad. Maar
dis toe al ná middernag en my wynrak
is leeg. "Moenie kommer nie,"
sê Dirk besadig, "ons het saamgebring."
En hy loop haal 'n paar bottels uit sy ryding.
Die eerste prop van die vars besending klap
en Ampie proe. En spoeg sy mondvol oor die
grasperk uit. "Jig!" snak hy.
"Dit proe soos Ashton!"
Ek en Dirk proe, en hoewel ek nie weet hoe
Ashton proe nie, stem ek saam die botteltjie
is nie op standaard nie.
Genadiglik is die tweede bottel prima, en
metterwyl hoor ek die tragiese storie van
Ashton.
Dirk en Ampie was destyds kollegas in Johannesburg,
en toe al versamelaars van goeie rooiwyn
synde, maar albei so arm soos kerkmuise,
hoor hulle 'n hotel in Ashton gaan toemaak,
en die moedelose eienaar sit met 'n kelder
goeie rooiwyn waarvan hy moet ontslae raak.
Hulle bel die man.
Dit was in die tyd toe jy 'n goeie bottel
uitsoek-rooiwyn kon koop vir R20 per prop
en petrol vir R2,50 per liter. Hulle kan
dit kry vir halfprys. Op voorwaarde dat
hulle al 600 bottels vat, kontant betaal
en dit self kom haal.
Met 'n langnaweek om die draai en ná
delikate onderhandelings met hul onderskeie
bankbestuurders en 'n halfdosyn medewynvlieë
wat aanbied om saam te koop, val hulle die
volgende Vrydagoggend dagbreek in die pad.
Met Dirk se gehawende kombi en 'n sleepwaentjie.
Saterdagoggend tweeuur kom hulle in Ashton
aan en slaap die res van die nag voor die
hotel in die kombi. Die skynbaar bankrot
hoteleienaar wys hulle die oggend sy kelder,
laat hulle proe, en hulle skil die R6 000
op sy toonbank af.
Dis Desember, die Groot-Karoo is 'n bakoond,
die kimme bewe en die kombi en sleepwa is
oorlaai. Maar Dirk en Ampie sing heelpad.
Want met die helfte van die wyn reeds aan
vriende verkoop teen R5 per bottel wins,
sit hulle met 300 bottels verouderde uitsoekwyn,
die reiskoste klaar betaal, teen R7 per
bottel!
Vieruur die middag op 'n stuk snaarreguit
pad kom 'n man in 'n rokende Volkswagen
verby en beduie dringend hulle moet stilhou.
Hulle trek verbaas af en die kewer stoot
terug. "Menere," sê die
oompie, "ek dink julle het probleme.
Daar stroom water of petrol of iets uit
jul kombi uit." Maar die uitgestrekte
Karoo ten spyt ruik hulle dis nie water
of petrol nie. Dit is 10-jaaroud cabernet
en pinotage.
Hulle maak die sleepwa oop. Nie dat dit
nodig is nie, want net waar hulle kyk, drup
die bloedrooi nektar uit. Die skade is omvangryk.
Nie net die onderste kartonne is sopnat
nie - dit lyk of daar in byna elke boks
'n bottel of twee se prop uitgeskiet het,
want almal is rooi gevlek. Die vrag in die
kombi lyk darem ongeskonde.
"Wat doen ons nou?" vra Ampie.
"Ons ry. Hoe gouer ons by die huis
kom, hoe beter."
Om te troos, haal hulle 'n halfoop bottel
uit 'n gedisintegreerde karton en skink
vir elkeen 'n blikbekertjie. Dit proe so-so.
Hulle probeer 'n ander bottel en dié
smaak dieselfde.
Hulle ry. Maar hulle sing nie meer nie.
Daar is 'n vaalgrys gevoel oor alles en
sommer so in die ry, drink hulle die twee
oop bottels leeg. Dit help, want skemeraand
anderkant Colesberg is Ampie weer besig
om 'n deuntjie te neurie. Dis eers by die
Gariep dat Dirk besef Ampie se deuntjie
klink darem baie soos Uit dieptes gans verlore.
"Een ding wat ons seker verdien,"
sê Dirk, "ons beproewinge in
ag genome, is 'n dop góéie
wyn!" Hulle maak 'n karton op die agterste
sitplek oop, want dié het minder
geskud en minder warm gekry, laat die prop
klap en proe. En dis absoluut prima. Alles
sou sweerlik daarvandaan verder goed gegaan
het as dit nie was vir die verkeersman wat
hulle aftrek nie.
Dirk erken: ná die ure se sit agter
die stuur, hét hy effens gesteier
toe hy uitklim. En dít, saam met
die wynwalms, spel toe vanselfsprekend:
dronkbestuur. Ampie omtrent in trane. En
Dirk probeer so besadig as moontlik verduidelik.
Hy vertel hul volledige, tragiese, rampspoedige
storie en wys die man hul vrag lekkende
wyn.
"R6 000 se geleende geld plus petrol
plus 48 uur op die pad - en ons sit hiérmee!"
sug Ampie.
"Jy kan proe as jy wil," sê
Dirk. "Ons sal die helfte moet weggooi
..."
"As ek nie aan diens was nie, het ek
wragtig ook geproe," sê die verkeersdienaar,
en hulle kan sommer hoor hy is self diep
aangedaan.
"Hoe laat is jy van diens af?"
"Oor vyf minute. Hoe lank vat dit om
'n bottel oop te maak?"
"Vyf minute," sê Dirk en
Ampie gelyk.
So kom dit toe dat dié drie daardie
skemeraand in die Suid-Vrystaat langs die
pad onder 'n doringboom twee bottels cabernet
al die nodige eer aandoen. En 'n klag van
beweerde dronkbestuur vryspring.
Die wynsafari was 'n ramp. Nadat al die
medekopers hul kwota gekry het, was daar,
toe skielik teen R25 per bottel, skaars
genoeg oor vir Dirk en Ampie. Maar dit het
darem 'n storie opgelewer wat hulle nog
soms, 30 jaar later, met 'n lag en 'n traan
op iemand se voorstoep kan oorvertel.
|