|
As
'n mens uit 'n reisoogpunt oor Oktobermaand
wil skryf, is die eerste ding wat in jou
kop opkom C. Louis Leipoldt se gedig. Want
hy vertel ons immers Oktobermaand is die
mooiste, mooiste maand.
Wel, dit hang af hoe jy daarna
kyk. En waar jy is en wat jy doen. Dis 'n
mooi maand, want dit het opgehou reën
in die Kaap (wel, dis veronderstel; partykeer
sneeu dit nog op die pieke, maar dis ook
mooi, net ontydig) en dit het begin reën
in die noorde. Lentereën en bloeisels,
groen gras ná die brande.
Tog dink ek Oktober is 'n
anderster maand. G'n wonder nie. Die sterre
maak tot 'n weegskaal in Oktober. Want die
jaar is in die weegskaal. Dié maand
is amper soos 'n lang sake-ete: te laat
om terug kantoor toe, maar te vroeg om huis
toe te gaan.
Voor jou sien jy die einde
van die jaar in sig. Agter jou lê
driekwart van die jaar op sy rug. Jy is
lus vir ontspan. Vir kuier. Vir reis. Tog
kan jy nêrens heen nie, jy moet nog
klaarmaak.
Om te keer dat hierdie weegskaal nie skeef
hang nie, het ons gesorg dat Oktobermaand
die mooiste, mooiste leesmaand is. Sorg
dat die reishonger jou nie van koers laat
gaan nie deur saam met Riana Scheepers op
bladsy 20 terug te reis na die bittersoet
van KwaZulu-Natal toe dit nog Natal was.
Of jy kan saam met Mike Horn
om die wêreld reis op bladsy 28, Venda-legendes
gaan opspoor op bladsy 38 en daarna op bladsy
46 uitvind hoe om vir twee dosyn veldfietsers
in die Richtersveld te sorg. Daarna kan
jy via Bonnievale en Ermelo gou oorskiet
na Bath in Engeland. Alles en nog meer in
die mooiste, mooiste maand.
Ja, as jy nou terugsit op
jou stoep, jou Mooiloop oopmaak en
regskuif om op 'n lekker leesreis te gaan,
vat net eers so diep asemteug deur jou neus.
En jy sal dan besef Leipoldt is reg. Want:
orals in die tuin rond ruik jy sering
en roos,
jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos.
Groetnis |