|
Honou! met November
se holderstebolder. Sit terug in jou
russtoel en reis saam met Mooiloop
deur ons land en anderkant Afrika.
Gee
'n hand vir bewaring - 4x4 Outreach
Bosberaad
Dis alles die mens se toedoen dat
die aardbol so swaar trek. Oorbevolking,
aardverwarming en 'n skrikwekkende
verlies aan fauna en flora. Vra maar
die Kaapse bergsebra. Gelukkig is
daar ook mense wat baie hard werk
om die teenoorgestelde te help gebeur.
Gerrit Rautenbach het saamgery
op die Toyota 4x4 Conservation Outreach
om te ervaar hoe 'n stukkie van die
legkaart herbou word.
Dit was eens so. Oneindige vlaktes,
ononderbroke en sonder littekens.
Magtige Afrika het ver uit gestrek;
so wyd as die Heer se genade. Seisoene
het gekom. Seisoene het gegaan. Al
die afstammelinge van Noag se ark
het in vrede geleef. In harmonie,
maar op die natuur se manier.
Elke dag skuif die son oor die aarde
en wanneer hy saans plek maak vir
die maan, strek die koning van die
veld hom uit, snuif die stoflug en
kondig sy heerskappy aan. As hy honger
is, gaan hy vang; as hy lui is, gaan
hy weer lê. Wan-neer die son
weer opkom, strek Afrika se oudste
mens homself uit waar hy met sy kop
op sy skouer lê en slaap het.
En hy snuif die oggendlug genoeglik.
As hy honger is, gaan hy jag. En net
genoeg. Altyd net genoeg.
Hou saam bosberaad op bladsy 22.
Kopreis - Fotoverhaal
Die Kalahari deur sy mense se oë
Fotograaf
Cara Bakkes het besef die oorvloed
fotografieboeke oor die Kalahari is,
soos haar eie foto's, deur buitestanders
geneem. Sy het gewonder hoe die Kalahari
se mense hul eie plek sien - wat vir
hulle mooi en lelik is tussen die
dor sand en kameeldorings. Maar toe
kom haar ma, Nanna, agter só
mooi kan die duinekinders ook nie
aldag sien nie, want die drinkwater
goël met hul oë. Haar pa,
Johan Bakkes, vertel die verhaal.
Die Khomani-San, Suid-Afrika se "eerste
mense", bevind hulle vandag saam
met die nasate van Nama-, Khoi-Khoi-
en bruin groepe tussen die duine suid
van die Kgalagadi-oorgrenspark in
die nedersettings Welkom, Witdraai
en Andriesvale. Dit is 'n harde wêreld
vir dié wat daar moet oorleef.
Dit is ook 'n ongelooflik mooi en
baie spesiale plek vir die reisiger
wat daar aandoen. Behalwe die natuur
maak die Kalahari-mens 'n besoek aan
dié ongenaakbare wêreld
onvergeetlik.
In die September 2008-uitgawe het
ek in Mooiloop vertel hoe die
San hul kultuur vir hulself terugvat,
al bly baie in informele sink- en
Hop-huise, meesal sonder Eskom-krag.
En al is die water uit boorgate in
die droë rivierlope brak - baie
brak. Maar soos wat ek toe aan die
voete van oom Jan van der Westhuizen
gesit het, sit ek nou ook en luister,
maar dié keer na my dogter,
Cara.
Kyk hoe die Khomani-San hul wêreld
sien op bladsy 30.
Bestemming - Paternoster
Rooi
goud, inkommers, locals en
die gavamint
Die kreef raak gewoond daaraan,
het André P. Brink in 'n roman
geskryf. Op Paternoster moet nog 'n
paar ouens aan 'n paar goed gewoond
raak, skryf Peet Steyn.
Paternoster se mense tel nie graag
hul woorde nie. Hulle meet ook nou
nie juis hul sinne nie. Net soos die
see en wind, is 'n ding daar nou maar
soos hy is, en word hy ook so gesê.
Iets wat wel gemeet en getel word,
is die dae vóór die
kreefseisoen nou eintlik volgens die
gavamint oopmaak. Maar wat
die gavamint sê en wat die locals
sê, is maar 'n bietjie soos
politiek; die aand- en môrepraatjies
stem nie ooreen nie.
Kreef, of rooi goud soos hy in Paternoster
en omstreke genoem word, of Jasus
lalandii soos die slim ouens hom
roep, is oorspronklik net deur Portugese
seevaarders en seker die San geëet.
Dié ou skulpdier het eers onlangs
gewild (en duur) geraak.
Lees wat die locals oor die inkommers
en die gavamint se kreef-permitte
te sê het op bladsy 44.
Skrywersdorp - Windhoek, Namibië
Windhoek
Windhoek,
Namibië is Daniel Hugo
se Jerusalem én sy Rome: die
heilige stad waar hy met die Sestigers
se verbysterende woorde kennis gemaak
het nog vóór hy sy eie
hand aan die digkuns gewaag het.
Rondom Windhoek lê daar berge:
die Auasberg, die Erosberg en die
Khomas-hoogland. Windhoek self is
soos Rome gebou op heuwels. Byna al
die strate het dus 'n helling, ook
John Meinertstraat 118 in Windhoek-Wes
waar sewe Hugo-kinders in 'n pastorie
grootgeword het.
Hellings is ideaal vir lewenslustige
seuns oneindig gefassineer deur wiele.
Vandat ons drie oudste broers 'n hamer
en 'n saag kon vashou, het ons kaskarre
gebou. Om afvalhout by bouwerwe te
kry, was maklik genoeg. Die grootste
gesukkel was om gepaste wiele te vind
vir daardie lewensgevaarlike houtgevaartes.
Gelukkig was daar gedurig kleuters
in die huis in die gedaante van 'n
jonger broer en susters. Ek weet van
meer as een stootkarretjie wat "afgeskryf"
moes word sodat ons sy wiele kon gebruik.
Uit radeloosheid het my pa op 'n keer
groot wiellaers by 'n Volkswagen-garage
gekry. Die staallaers sonder enige
band rondom maak 'n helse lawaai op
'n geteerde afdraande. Dit laat die
kaskar ook so vibreer dat die bestuurder
se tande klapper en hy dubbel begin
sien.
Lees verder op bladsy 50.
Kultuurreis - Oos-Kaap
Singende
sangomas
Die Oos-Kaap se rituele slaan jou
net so stom soos sy riviere en watervalle,
skryf Sybrandus Adema nadat
hy gaan kyk het na die seremonie hoe
'n vriendin sangoma geword het.
Dit begin werklik in die pragtige
Port St. Johns waar twee straatblokke
'n hand vol winkels en verveelde smouse
voor omskepte vraghouers 'n bestaansrede
gun. Die dorp - wat lank-lank gelede
'n nes van wapensmokkelary was - se
enigste herinnering aan daardie gewelddadige
tydperk is die Slag om Klankstelsels
wat nou jou oortromme(nd) vanuit elke
winkel aanval.
Ons het die vorige dag deur donkies
en beeste gevleg vanuit die verweerde
binnelandse hoogtes na benede na die
tropiese kus. 'n Vriendin, Sheila
Dörje (nou Nobuyile "Sy
wat terugkeer"), word sangoma
ná jare se spirituele reis.
Laatoggend - dit is mos die rustige
Oos-Kaap - word ons deur haar mede-amathwasa
(leerling-sangomas) ontmoet wat uitgedos
in rooi kleding en met baie krale
versier is. Een van hulle het ook
'n hele klomp hoendervere wat haar
hare bedek. Dié stokkiesdraers
wat later spiesdraers sal word, klim
in 'n motor waaruit Vivaldi basuin
en die rit na êrens begin.
Vind uit wat gebeur by so 'n seremonie
by op bladsy 58.
Kosreis - Mosselbaai
Skeurbuik se moses
Nes
'n gehawende seilskip honderde jare
gelede het ons gesin Mosselbaai as
skuiling binnegevaar - en gevoed en
gekoester weer bolseil uitgevaar,
skryf Mariëtte Crafford.
"Die een hewige storm ná
die ander het die skip getref en die
fokmas, die grootsteng en ra is afgeskeur
en het oorboord gespoel. Die roer
het gebreek en die houtromp het begin
lek."
Die houtkatel in Hester en Anton Bosman
se gastehuis Huijs te Marquette in
Mosselbaai, Suid-Kaap, se beddegoed
kraak wit en bros toe ek omdraai.
Die kwaaiste stormjaar wat die Kaapse
kus die afgelope dekade beleef het,
woed in 'n vernietigende bui. Die
skoolvakansieweek val daarmee saam.
Nie goeie tydsberekening as 'n mens
wil padvat see toe nie, maar dit was
al kans om weg te kom.
Dit
was 'n dag waarin ons op pad uitgelewer
was aan die natuurkragte. Ons moes
deur reënbuie piekel en plek-plek
deur waters oor die pad waad. Ons
het strome van seën van bowe
en wind van alle kante af trotseer.
Maar ek en my kinders, Mariella en
Peter, moes asemskep en tot verhaal
kom ná 'n ewe stormagtige seisoen
van die gemoed.
Huijs te Marquette, het die naambordjie
gesê. Met ses geweltjies wat
soos 'n skip se seile met hul punte
in die wind staan, het die gastehuis
ons opgeval en ons het nét
daar voor die voordeur op 'n parkeerplek
stilgehou. 'n Windvlaag het ons letterlik
teen die voordeur vasgewaai, en by
die voorhuis, deur die geure van meubelolie,
naeltjies en kaneel, ingewaai.
Gelukkig was daar nog een leë
kamer; in al 26 beddens van dié
gastehuis se backpackers in
die tuin het 'n lyf geskans teen die
gure weer in 'n bondeltjie gelê.
'n Osstertbredie en gestoofde patats,
sien ek in die verbygaan, was dié
aand op die spyskaart. Kos in my omgewing
gaan selde ongesiens en ongeproe by
my verby, maar daardie aand is dit
te laat en ons is te poegaai om te
eet.
Maak saam kos (resepte ook beskikbaar)
op bladsy 64.
Bewaring - Wildehonde
Verfspatsels in die veld
Wildehonde
in kleiner reservate moet gereeld
hervestig word omdat hul grondgebied
te beperk is en inteling tot gevolg
kan hê. Dawid de Wet
was onlangs by om te kyk hoe 'n trop
in 'n nuwe gebied vrygelaat is, hoe
hul neefs hul mislei én wat
gebeur wanneer 18 honde om 'n been
baklei.
Kom, Oubaas se oulike honne,"
dink ek, "kom!" Miskien
is ek verniet bekommerd, hierdie is
mos nie ou Wagter wat mooi geleer
is om op die werf te bly nie.
Ons is in 'n aanhoudingsboma in Botswana
se Noordelike Tuli-reservaat saam
met 18 wildehonde wat uit die Marakele-
Nasionale Park in die Waterberg van
Limpopo kom. Hulle het die afgelope
vyf maande in die kamp strekoefeninge
gedoen, ore gespits en hul neuse aan
dié veld gewoond gekry. "Kom
saam wanneer ons die wildehonde vrylaat,"
het die Trust vir Bedreigde Natuurlewe
(EWT) en Land Rover SA genooi, en
Mooiloop het nie op hom laat
wag nie.
Lees verder op bladsy 70.
Die naweek - Tonteldoos
Net
'n boom en 'n stopstraat?
Die plekkie Tonteldoos naby Dullstroom
in Mpumalanga kry glo sy naam van
dié outydse soort pypaansteker
wat in die lang tamboekiegras daar
verlore geraak het. 'n Mens soek selfs
op 'n landkaart na Tonteldoos, skryf
Carié Maas.
Ons kuier op Tonteldoos die dag toe
Johnny Kinneke se swaeltjie terugkom
huis toe. Die Hoëveld is nog
witlelik ná die winter, die
hele Mpumalanga stik in die rook van
veldbrande en die vrugtebome begin
plek-plek bang blom en staan elders
al vol in die pienk. Want Tonteldoos
is vrugtewêreld, geelperskewêreld.
En met so 'n outydse naam natuurlik
ook mampoerwêreld.
'n Sterk dop kan jy daar nog kry,
'n skeut geskiedenis en selfs 'n kuiergat
of drie (nee, nie óf nie, daar
is net drie, en dit, sal dit gou blyk,
is báie).
Maar hierdie spikkel op die landkaart
moet een van daardie soort bestemmings
wees wat 'n mens eerder definieer
aan die hand van wat nié daar
is nie.
Vind uit wat op Tonteldoos te vinde
is op bladsy 76.
Kroegkruip - Die Barrydale Karoo-hotel
'n Gelukkige man
Deur Johan Bakkes
Dit
is snikheet-twaalfmiddag se warm in
die Klein-Karoo. Die Barrydale Karoo-hotel
is so toe soos 'n klei-os se oog.
Hulle het gewaarsku: "Philip
maak net oop as hy wil of as hy van
jou hou."
Ek leun teen die deurklokkie aan.
Een, twee keer. Dof hoor ek voetstappe.
Skrefie oop loer 'n oog.
"Ja?"
"Ek wil graag 'n ietsie gebruik
- het julle 'n kroeg?"
Die deur beur 'n bietjie groter oop.
"Ek sit met 'n helse babelas,
ek het gisteraand hier in my eie hotel
gekuier," kom die antwoord en
die oog bekyk my op en af.
Stilte.
"Oukei, kom maar in."
Ek stap 'n ander wêreld binne
...
Johan neem ons vanaf vandeesmaand
saam na geskiedkundige watergate in
ons land in sy nuwe reeks, Kroegkruip,
op bladsy 80.
Anderkant Afrika - Val(k)skermsweef
Sweef soos 'n arend
'n
Roofvoël se grasieuse vlug op
lugstrome kan nie anders as om die
mens met verwondering te vervul nie.
Corlius Jooste het hom oorgegee
aan elkeen se versugting om so te
kan sweef - deur letterlik die gevleueldes
se vlerkspan te volg.
Die wind suis deur die kabels van
die skermvlieër. Doer onder lê
die silwerblou Fewa-meer en die dorpie
Pokhara aan sy oewer. Rondom ons toring
die geweldige Himalaja. Bo is die
lug baie blou.
Die kloue van 'n jong Egiptiese aasvoël,
Kevin, omklem my opgestopte linkerhandskoen.
Scott Mason, 'n Brit en die voëlafrigter,
sit reg agter my - ons harnasse vas
aan die hangvlieër.
Scott stuur die skermvlieër moeiteloos
na 'n termiese stroom. Ons begin stadig
opwaarts spiraal binne-in die warm
lugstrome wat opstyg vanaf die aardoppervlak
namate dit deur die son verhit word.
Kevin ry vir 'n paar oomblikke op
my hand, sy swart ogies flits heen
en weer. Dan skop hy weg en sweef
op in die wasige lug. Ek trek my hand
terug agter die kabels - heeltemal
ekstaties, lighoofdig van die opwinding,
van die koue lug wat verby my valhelm
stroom.
Vlieg saam op bladsy 82. |